Friday, October 12, 2012

Sketse

Ek gaan my sketse en skryfwerk apart hou.
My sketse kan jy vind by

www.ebensketse.blogspot.ca

EVR

Saturday, September 29, 2012

Skud die roes af...

Lank gelede, in 'n galaksie vêr, vêr hiervandaan, het ek baie gereeld geteken. Veral op skool het ek wetenskapfiksie en fantasie tekening elke dag geteken. Wel, ek het besluit om my tekengoed weer uit te haal en te begin oefen.

Hier is my eerste pogings na meer as 15 jaar! Ek hoop my illustreerder-boetie (Carel van Renen) sien nie hierdie tekeninge nie... Hy sal homself dood lag, en dan het ek net vir Loedi as broer oor.

Bronto Ligte Passasierskip - Uit my boek "Arwantië 2953"

Konsep vir 'n Swaargepantserde Eksoskelet, hier gedra deur 'n Stormtroep. Linkerarm het 'n R-1.

Paar ekstra konsepte. Sommer net speel met vorm ens.

Wel, mens moet iewers begin. Ek dink ek sal kyk of ek so bietjie kan werk aan ten minste een prent op 'n dag.

Eben


Friday, September 28, 2012

LitNet onderhoud

http://www.litnet.co.za/Article/lank-lewe-die-arwantyne-elzette-steenkamp-gesels-met-eben-van-renen-oor-afrikaanse-wf

Groot dankie aan Elzette Steenkamp vir haar ondersteuning by LitNet vir Afrikaanse wetenskapfiksie.





article

Monday, June 11, 2012

Hoe om die Afrikaanse wetenskapfiksie en fantasie Frankenstein monster weer lewe te gee...



Deur Eben van Renen (Skrywer van Arwantië 2953)

Jy het jou boek klaar geskryf. Daar is ’n ruimteskip in, of miskien geskied jou storie in ’n parallelle werklikheid. Jy stuur jou manuskrip vir die uitgewers...

Jy hoor niks. Die beste wat sommige van ons kry is ’n epos wat sê; “Dankie, maar nee dankie.”

Jy dink terug na al die ure wat jy ingesit het. Erger, jy dink aan die storie waaraan jy so hard gewerk het en wat nou verewig op jou eie rak gaan sit.

Dan vind jy uit dat die uitgewer nie eens die manuskrip gelees het nie. As jy miskien geskryf het vir jong, skoolgaande lesers, het dit miskien ’n kans gehad, maar jou boek was gemik op meer volwasse lesers.



Sommige van die ouer geslag vertel my dat daar destyds ’n gesonde verskeidenheid wetenskapfiksie boeke in Afrikaans was. (Daar was nooit enige lewe in die Afrikaanse fantasie genre gewees nie – wat seker te doen het met ons Calvinistiese vrese vir die magiese! Boe!). Hier in die laat negentigs het die WF-genre heeltemal begin platval. Twee groot skrywers (en ek bedoel GROOT Afrikaanse skrywers) het my laat weet dat hulle tog glo dat uitgewers ’n kans sal waag met WF indien die storie goed is. Ek twyfel nou oor hulle optimisme. Ons grootste uitgewery het nie eens na my manuskrip gekyk nie. Hulle rede?

“In hierdie ouer ouderdomsgroep skryf jy vir ’n nismark en die mense wat hierdie genre lees, lees eerder een van die horde Engelse boeke wat die land binnestroom.”



Mmm...



Nou wat nou?

In my vorige artikel het ek uitgewei op die belangrikheid van hierdie twee genres vir Afrikaans.

               

Twintig jaar gelede was die Afrikaanse musiek en filmbedryf ’n grap gewees. Niemand (jonk) wou daaraan geraak het nie. Wel, dit is eintlik nie waar nie. Iemand het êrens begin om ’n baie eensame paadjie te loop, in Afrikaans. Daar was geen beloftes nie, net drome. En nou sit ons met twee fenomenale verskynsels. Ja, in die begin was die kwaliteit maar swak gewees. Jou ouma kon selfs ’n swaarmetaal CD vrystel (te veel voorbeelde hier). Maar weldra het die kompetisie sterker geword en nou sit ons met baie gereelde suksesse (musiek soos K.O.B.U.S!, Straatligkinders... en rolprente soos Semi-soet).

                Wat het met ons musiek en ons filmbedryf gebeur en hoe kan ons uit ander se suksesse en foute leer?

                Ons het baanbrekers nodig. Na Fritz Deelman het ons nie weer ’n sterk fakkeldraer vir ons genre geskep nie. Ons soek ’n gevestigde skrywer wat van bo af iets vir ons ouens hier op die grond kan bewerkstellig. Iemand soos Fanie Viljoen, miskien?

Wees bewus van die hindernisse.  Ek dink die outjies op skool is veral lief vir nuwe idees. Hulle hou van die gevoel van om deel te wees van iets ondergronds, iets wat hulle help uitbou. Hoe anders het Afrikaanse rock ooit momentum gekry? Dit beteken webwerwe, goeie boeke en skrywers wat met passie hulle liefde vir die genre kan laat vlamvat op voetsoolvlak. Dit beteken dat die uitgewers tog reg is in ’n mate; as jonger lesers jou boek ondersteun is jou kop deur. Maar hulle weet wat hulle wil hê en jy moet dit vir hulle kan gee.

Swak kwaliteitsbeheer is ’n groot gevaar! Vir elke slegte Afrikaanse WF of F boek wat gepubliseer word, verloor ons dalk ’n hele klomp mense vir die genre. Ek is van mening dat ’n slegte boek slegter is as geen boek. Dit berokken te veel skade aan ons saak.



My strategie lyk dus so:

1.)    Enkele baanbrekers op die punt van die ysberg, wat help om die genre te laat herlewe in die publieke bewussyn.

2.)    ’n Span skrywers, elk met sy eie sterkpunte en aanslag, wat sonder veel hoop op vergoeding sal aanhou swoeg om boeke vry te stel sodat meer en meer mense die genre begin geniet.

3.)    ’n Groot groep voetsoldate, of Trekkies (ha ha!), wat in skole sal help om die genre te bevorder, skrywers uitgenooi te kry by skole, ens.

4.)    As die beweging momentum kry, sal daar hopelik ’n uitgewer of twee wees wat ’n kans sal waag met ’n minder gevestigde skrywer.

5.)    Al moet ons op ’n ietwat jonger teikengroep fokus in die begin, sal daar dalk later ’n opbloei in belangstelling onder ouer lesers ook plaasvind vir die genre. Dink maar aan die manier hoe kinders Harry Potter en The Hunger Games so sterk gesteun het dat amper elke volwassene nou vertroud is met hierdie boeke.



En weereens, onthou om te vra: Wat sou Fritz Deelman gedoen het?!

So, wat dink jy? Enige voorstelle? Stel jy dalk belang om deel te maak van die Afrikaanse Herlewing in Wetenskapfiksie en Fantasie? (Miskien het ons ’n naam nodig, soos AHWF, of die Deelman Beweging, of Afrikaanse Alien Beweging, hê hê...)

Gooi ’n vonk na my kant toe by ebenvanr@yahoo.ca, of besoek www.ebenvr.blogspot.ca vir nog artikels.

Eben




Wednesday, April 18, 2012

Hoekom is die Wetenskapfiksie en Fantasie genres so belangrik vir die Afrikaanse taal?

As jy eers stop en net my titel hierbo weer lees, sal jy sien dat ek lig getrap het deur nie te praat van die Afrikaanse letterkunde nie, maar eerder die Afrikaanse taal. Daar was al in verskeie tale gedebatteer oor die waarde (waardigheid) van wetenskapfiksie en fantasie as genres van die grote Letterkunde (let wel die hoofletter L – dis belangrik! Ons het hard gewerk vir daardie L. Wel, nie ek nie... maar ander slimmer mense...) Engels, daardie ou kolossale olifant wat maar altyd sy skadu oor alles werp, het ten minste vir Tolkien en Asimov om Sci-Fi waardigheid te gee, maar Afrikaans sit nog sonder enige groot wetenskapfiksie werk (moenie eens praat van fantasie nie!).

Ja, ons het maar ‘n klein taaltjie. Dit het ons geleer op skool. As jy ‘n voorgeskrewe boek ontvang het, kon jy jouself maar staal vir die ‘issues’ wat verseker soos kartetse in jou gesig gaan ontplof. (Hierdie storie gaan oor ‘n meisie wat seks met haar kêrel het omdat sy sukkel om haar ouers se verbrokkelende huwelik te verwerk, en daarna raak sy swanger en drink miergif. Jippie.) Terwyl jy daar sit in die klas en wonder hoekom al die Afrikaanse karakters in hierdie boeke altyd so rojaal opgemors is, sit jou Engelse tjommies in die klas langsaan en lees The Hobbit.

Ja, daardie bliksemse Rooinekke het dit altyd makliker.

“Maar”, maan die juffroue ons altyd, “ons moet trots wees dat Afrikaans so ‘n sterk letterkunde het.” (Jy wonder hoe Juffrou ‘sterk’ met ‘treurige’ kon misgis het.) Sy sê dat Afrikaans in ‘n baie kort tydjie ‘n ‘verbasend’ ryk, diep en robuuste letterkunde op die been gebring het. Die name soos Louw, breyten en Krog val soos sterretjies uit die hemel om hierdie punt van haar te benadruk.

Nou, hier moet ek vir Juffrou gelyk gee. Ek ís trots op daardie skrywers. Ek lees, ten minste nou dat ek `n volwasse man is, gereeld gedigte en kortverhale. Ek is mal oor die manier hoe van ons beste woord meesters die taal kan laat sing en dans. Daar is ongelukkig iets wat kwel: Afrikaanse mense lees nie eintlik baie nie. En Afrikaanse mans en seuns lees omtrent niks behalwe die koerant en Playboy nie. As die Afrikaanse letterkunde `n huis is, is daar maar min Afrikaanses wat gereeld daar kom kuier. Die vraag is dan... hoekom? En wat het Afrikaanse wetenskapfiksie en fantasie daarmee uit te waai?

Kom ons neem so ‘n toertjie rondom ons Letterkundige-huis sodat ons die woning van buite kan beskou...

Die huis is nie baie groot nie, maar mooi gebou. Agter die huis staan ‘n enorme kasteel. Ons huis, en talle ander tale se huisies staan soos ’n groot woonbuurt in die skadu van die Engelse kasteel. (Spaans en Mandaryn het ook groot kastele, so terloops, maar hul skaduwees val nie oor so baie van die kleiner wonings nie.) Behalwe vir die verskil in grote, is dit die verskil in die aantal deure van die twee woning wat mens ook opval. Die Engelse kasteel het ‘n menigte deure, altyd wawyd oop. Van die deure is gemerk in grystale (tale tussen Engels en ‘n ander taal). Kyk! Daar is ‘Brabbelmieks’ ook... mensig daar loop baie mense rondom ons huis na daardie deur in die Engelse kasteel!

Die kasteel het deure wat elke genre van die Engelse taal verteenwoordig. Daar is groot deure soos ‘Thrillers’, ‘Romance novels’ en ‘Horror’. Daar is ook ‘n futuristiese deur vir ‘Science Fiction’ en ‘n gotiese deur vir ‘Fantasy’. Ek het nou-net ‘n vriend van my - Harry Potter boek in sy hand - sien inloop by ‘Fantasy’.

Ons Afrikaanse huis het net ‘n paar deure. Daar is ‘Nuus’, ‘Poniekoerante’, ‘Voorgeskrewe boeke’, ‘Tydskrifte’, ‘Speurverhale’ en ‘Misdaadromans’, ‘Kookboeke’, ‘Boeke oor perde’, en nog so ‘n paar ander. O, amper vergeet ek, daar sien ek ‘n piepklein deurtjie wat vir ‘prosa en digkuns’ ingesit is, en mens kan ‘n span onderwysers sien wat kinders probeer inboender daar.

 Kom ons kies ‘n deur.  A... speurverhale! Met my Chris Karstens boek in my hand loop ek deur die redelike stewige deur van ‘Speurverhale’(verf op die kosyne is nog nat). Binne die huis is dit soos ‘n doolhof. Die huis is lewendig, net soos ‘n doolhof in ‘n tuin. Kamers krimp en kamers groei. As mens eers binne is, kan jy na enige kamer gaan wat jy verkies. Die taal is jou huis en jy het die vryheid om dit te verken. As ’n leser eers binne is, gaan die Afrikaanse wêreld vir hom of haar oop.

Die probleem is egter dat vir ‘n jong seun daar te min deure is wat uitlokkend is.  Meeste seuns word deur die ‘Voorgeskrewe’ en ‘Prosa en digkuns’ deure ingeboender voordat hulle gereed is daarvoor. As hulle ooit ‘n leser sou word na so ‘n ervaring, is die kanse goed dat hulle volgende keer ‘n wye pad om die Afrikaanse huis gaan stap en direk na die kasteel se kant toe sal mik. Hulle word lesers, maar nie vir Afrikaans nie.

Baie meisies ervaar dieselfde. Wys vir my ‘n fantasie boekereeks soos die Harry Potter-, Twilight-, of die Mists of Avalon -reekse. Hierdie meisies (en vroue) lees al lankal in die gemaklike leunstoele van die Engelse kasteel.

Hoekom is daar so bitter min verteenwoordiging van die wetenskapfiksie en fantasie genres in die Afrikaanse taal? Antwoord: Die Mark (doem doem doem!). Vra enige uitgewer en die antwoord kom op die volgende neer: “Ons verkoop nie genoeg sulke boeke nie, dit is ‘n nis mark.” Blykbaar was Tolkien, Lewis, Asimov, Clark, Meyer en JK Rowling ook nismarkte, of is die reëls anders vir die Engelse kasteel?

Indien ons Afrikaans meer toeganklik vir almal wil maak (seuns en meisies met verbeelding veral!), moet ons die genres nie net ondersteun met die uitgee van nuwe boeke nie, maar ons moet die genres bemark. En bemarking kos geld. Geld wat die uitgewers nie wil belê nie. Ek is amper seker dat meeste mense nie eens Afrikaans as ‘n fantasie en wetenskapfiksie taal beskou nie. Hierdie persepsie is die ding wat tussen uitgewers en hierdie genres se winsgewendheid te staan kom. Daarom sit ons, myns insiens, met ‘n letterkunde vol gate. Ons het nie ‘n volledige tuiste vir ons Afrikaanstaliges gebou nie.

 Hoe nou gemaak? Uitgewers gaan ons nie help nie. Hulle is besighede. Risiko gee hulle die horries en op die oomblik is al hulle aandag op kookboeke, rugby en speurverhale (o ja, en boeke oor perde vir meisies). Ek dink dat enige ‘ondergrondse’ beweging wat wetenskapfiksie en fantasie in Afrikaans wil bemark, sterk moet fokus op veral hierdie twee punte:

1.)    Die persepsie dat Afrikaans nie goed werk in hierdie twee genres nie.

2.)    Die persepsie dat Afrikaans nie eens hierdie genres het nie.

Daarvoor het ons veral twee dinge nodig: Goeie boeke wat lesers sal oortuig van nommer 1 hierbo se ongegrondheid, en ‘n slim bemarkingsveldtog wat veral hoërskool leerlinge sal teiken en inlig oor die bestaan Afrikaans se WF en F genres.

            Momentum sal opgebou moet word. Momentum beteken goeie kwaliteit boeke, ‘n lojale lesers mark, goeie verkope, en ‘subkultuur’-status. As jy Afrikaans lief het, sal jy ook soos ek die deure wyd wil oopgooi sodat ons meer lesers wen en ‘n groter letterkunde kan opbou (al is dit op voetsoolvlak, nee, veral op voetsoolvlak!).

Wanneer hierdie soort momentum opgebou word sal ons sien dat uitgewers weer belang sal stel om die boeke te druk (die harde werk is mos al vir hulle gedoen!).



Ek wonder soms of ons kollektiewe gesukkel om futuristies te dink in Afrikaans nie-gekoppel is aan ’n tipe depressie oor die toekoms van Afrikaans nie. Ek wonder of mense net ’n Engelse toekoms kan verbeel. Miskien is dit ’n ander gesprek?



In my volgende stuk getiteld “Afrikaanse wetenskapfiksie en fantasie; ‘n onmoontlike droom?” sal ek bietjie voorstelle maak oor die pad vorentoe vir die WF en F genres.

Los kommentaar op die blad as jy wil deelneem aan die debat, of skiet ‘n vonk my kant toe by ebenvanr@yahoo.ca of op my werfjoernaal http://ebenvr.blogspot.ca/



Groete

Eben van Renen